Ügen Vos
Die staking by die Impala-platinummyn (Implats) naby Rustenburg, naasgrootste produsent van dié edelmetaal ter wêreld, is nog lank nie verby nie.
Mnr. Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het gister aan stakende werkers gesê dié vakverbond onderneem om seker te maak alle stakers wat terugkeer werk toe, word heraangestel teen dieselfde vergoeding wat hulle voor die staking ontvang het.
Cosatu onderhandel reeds op ’n hoë vlak deur die National Union of Mineworkers (NUM) se strukture met die mynbestuur.
Vavi het later aan verslaggewers gesê armoede veroorsaak baie van die probleme by die myn en dit moet dringend aandag kry.
’n Groot groep stakers het egter ná Vavi se toespraak aan Beeld gesê hulle twyfel of sy woorde enige werklike verskil sal maak. “Die bestuur weier steeds om met ons te onderhandel en die staking gaan beslis vandeesweek voort,” het een van die organiseerders belowe.
Die stakers het ook gewaarsku dat verdere geweld deur die loop van die week verwag kan word en verskeie het aangedui dat dit reeds baie onveilig is om vroegoggend in die gebied rond te loop.
Mnr. Zed Ndalas het gesê die stakers sal nie rus voordat hulle R9 000 ná aftrekkings verdien nie. Hulle neem nou R3 000 huis toe.
Die staking het al twee lewens en meer as R1,2 miljard aan verlore produktiwiteit gekos.
Die intimidasie en geweld het begin toe sowat 5 000 werkers wat ondergrondse boorwerk doen, ná ’n onwettige staking afgedank is.
Dié werkers is ongelukkig omdat hulle glo oorgesien is toe ander werkers ’n R3 000-prestasiebonus gekry het om te keer dat ander myne hulle wegraap.
Die myn het later ingestem om die werkers wat teruggaan werk toe weer aan te stel sonder verlies aan hul voordele.
Daarna het werkers wat weier om terug te keer ander werkers begin intimideer.
Dit het uitgeloop op ’n simpatiestaking en die meeste mynwerkers het op 30 Januarie nie vir werk opgedaag nie.
Mnr. Lesiba Seshoka, NUM-woordvoerder, het gister gesê Implats het onderneem om sowat 8 000 stakers weer aan te stel. Die vrees is dat diegene wat verkies om te bly staak dié werkers verder sal teiken en intimideer.
•Nog ’n berig op bl. 14 in Sake24