Vaardigheidstekort knel egter
Jan de Lange
Johannesburg. – Suid-Afrika sal binnekort ’n besluit neem oor die bou van die land se volgende kernkragstasie, het me. Dipuo Peters, minister van energie, gister gesê.
Die land se kernkragprogram gaan egter ook ’n verskaffingsketting vir kernbrandstof insluit. Daarvoor sal ’n uraanomsetteraanleg en ’n uraanverrykingsaanleg ook opgerig word, het Peters gisteroggend op die Afrika-energie-indaba in Sandton gesê.
“Die verkryging van kernkrag-brandstof is ’n sleutelkwessie en die regering spits hom in besonder toe op die verkryging van uraanbronne, die ontwikkeling van ’n uraanomsetteraanleg, ’n uraanverrykingsaanleg en ’n aanleg waar kernbrandstof vervaardig word,” het sy gesê.
Daar moes reeds verlede jaar begin word om die proses aan die gang te kry, maar dit was vir die regering belangrik om ná die Foekoesjima-kernramp in Japan “terug te gaan tekenbord toe om weer te kyk na vraagstukke oor veiligheid, maar in besonder na kwessies van die konstruksie-ontwerp”, het Peters gesê.
“Toe ons onsself vergewis het van die lesse wat te leer is uit die Foekoesjima-ramp, het ons besef dat dit nie soseer gaan oor die tegnologie wat gebruik word nie, maar ook oor die ingenieursdienste wat in ’n kernaanleg gebruik word,” het sy gesê.
“Die feit dat ons nie reeds verlede jaar ’n besluit kon neem nie, beteken dat ons program laat is. Die eerste eenhede moet egter voor 2024 in bedryf gestel word,” het sy gesê.
Die aanvanklike datum in die nasionale hulpbronplan is 2023. Daarvolgens moet die land teen 2030 sowat 9 600 megawatt elektrisiteit by kernkragstasies opwek – wat beteken daar sal minstens twee kernkragstasies teen 2030 voltooi moet wees.
Peters het daarop gewys dat die land ’n ernstige tekort aan vaardighede vir ’n kernkragbedryf het.
“Dit is duidelik dat ons ’n vaardigheidstrategie sal moet ontwikkel om die vaardighede te kry wat die hele kernkragprogram kan ondersteun.
“Dit sluit in vaardighede vir die konstruksie van aanlegte, die bedryf van ’n kernkragaanleg, regulatoriese vaardighede, uitdiensstellingsvaardighede en die bestuur van radio-aktiewe kernafval,” het sy gesê.
Die regering het in Junie 2008 die kernkrag-protokol goedgekeur. Die langtermyn-visie met die beleid is om internasionaal mededingend te word in die ontwerp, toepassing en vervaardiging van top-kernkragstelsels.
“Die bedoeling is om die land se energiemengsel weg te lei van die feitlik eksklusiewe afhanklikheid van steenkool weens die behoefte daaraan om die land se koolstofvoetspoor te verklein,” het Peters gesê.