Kings-valbyl maak Lions-stryd teen Cheetahs ál belangriker

JOHANNESBURG. – Die Lions en die Cheetahs se kragmeting Saterdag hier is slegs hul eerste wedstryd van die seisoen, maar dit kan vir dié franchises die belang van ’n eindstryd hê.

Met sowel die Lions- as die Cheetahs-franchises se toekomstige deelname aan Super-rugby in die gedrang noudat die Kings hul plek in die son belowe is, word daar alom aanvaar dat hul vertonings in vanjaar se Super-reeks ’n bepalende faktor vir verdere insluiting kan wees.

Rugbybase vergader einde Maart weer oor dié kwessie en as ’n bykomende streekspan nie aan Suid-Afrika toegeken word nie, lyk dit of die Lions of die Cheetahs die waarskynlike slagoffers sal wees. Vir die afrigters en spelers van dié spanne is daar net een manier om daarop te reageer en dit is om wedstryde te wen.

’n Maand se Super-rugby moet gespeel word voor dié vergadering plaasvind, waarvan die Lions en Cheetahs se katgeveg heel eerste aan die beurt kom.

Kevin de Klerk, president van die Goue Leeus Rugbyunie, erken dat goeie vertonings in vanjaar se reeks een van dié franchises se redding kan wees. “Kom ek sê jou so: As die Leeus nie verlede jaar die Curriebeker gewen het nie, sou ons saak glad nie so sterk gewees het nie,” sê De Klerk.

“Ons fiksheidspeil, vaardighede en die patroon wat ons gehandhaaf het, het dit laat lyk of die ander spanne ’n bietjie agter geraak het.”

Daar word selfs bespiegel dat ’n gekombineerde span van die Lions en die Cheetahs, soos dit vroeër met die Cats die geval was, weer kan terugkeer, maar die unies is nie daarvoor te vinde nie.

De Klerk sê hoewel die Cheetahs-wedstryd vanuit ’n sekere oogpunt van groter belang is, is dit ’n lang seisoen met veel meer uitdagings as net dít wat voorlê.

“Ons het ’n beleid om ons talent van binne te kweek aangeneem en dit gaan ’n tawwe en lang seisoen wees.

“Maar sonder om windmakerig te klink, glo ek regtig ons het die vermoëns om opslae te maak,” sê hy.

Die Lions-afrigter, John Mitchell, kondig vandag sy span vir die Cheetahs-wedstryd aan en hoewel min spelers met toetservaring daarin opgeneem sal word, is daar straks heelparty toekomstige Bokke.

Vanjaar beloof om veral ’n deurbraak-jaar vir die talentvolle Lions-drietal Elton Jantjies (losskakel), Jaco Taute (heelagter) en Derick Minnie (flank) te wees.

. Intussen het die soektog na ’n nuwe uitvoerende hoof vir die GLRU begin.

Die geskikte kandidaat sal onder meer ’n goeie mengsel van ervaring, sakevernuf en ’n baie dik vel moet hê om in die warmste van warm stoele te oorleef.

Op die vraag of die tussentydse uitvoerende hoof, Ruben Moggee (32), steeds voortaan in die GLRU se diens gaan staan, sê De Klerk hy sal graag wil hê Moggee moet vir die unie behoue bly.