Stephen Nell
KAAPSTAD. – Die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby se gesogste verdedigingsbreier, Jacques Nienaber, bly onseker.
Nienaber word gereeld as potensiële lid van Heyneke Meyer se Springbok-afrigtingspan genoem, maar het nog niks van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gehoor nie.
Boonop het die WP nog niks verder as gesprekke met hom gevorder oor ’n verlenging van sy kontrak tot einde 2015 nie.
“Rob Wagner (besturende direkteur van WP Rugby Edms. Bpk.) het na my gekom en gesê dat daar ’n mandaat van die direksie was om my kontrak te verleng,” het Nienaber gesê.
“Ek het nog nie ’n kontrak gesien nie. Hy het gevra of dit in die haak sal wees as die kontrak aan Allister Coetzee s’n tot Oktober 2015 gekoppel sal wees.”
Die WP het Maandag aangekondig dat Coetzee sy kontrak as hoofafrigter met drie jaar verleng het. Daar is óók in ’n nuusverklaring gesê dat daar kontrakverlengings aan drie van sy hulpafrigters – Nienaber, Matt Proudfoot en Robbie Fleck – aangebied is.
Die voorsitter van WP Rugby (Edms.) Bpk. se direksie, Vic Christian, het op ’n nuuskonferensie uitdruklik gesê dat die aanbiedinge aanvaar is.
Dit lyk egter of die kar voor die perde ingespan is – ironies genoeg nadat die WP Rugbyunie se president, Tobie Titus, die media daarvan beskuldig het dat “halwe waarhede” verkondig word.
Gisteraand het die Stormers op hul webtuiste aangekondig dat Nienaber-hulle se kontrakte “tans geformaliseer word”.
Nienaber se enigste keuse in dié stadium is om by die WP te bly, want hy het nog niks van ’n rol by die Bokke gehoor nie. “Ek het Heyneke Meyer vandag (gister) die eerste keer ontmoet toe hy ’n praatjie vir die spelers gehou het,” het Nienaber gesê.
“Wat ’n rol by die Bokke betref, weet ek maar net wat ek in die koerante lees. Daar is (met Meyer se aanstelling) gesê dat Heyneke se bestuurspan vinnig gefinaliseer sal word. Ek neem aan daar is reeds met almal gepraat en ek is nie een van hulle nie.”
Dit sal nietemin geen verrassing wees nie as daar eersdaags deur Saru met Nienaber in gesprek getree word.
Nienaber het wel genoem dat hy die opset by die WP geniet.
Die unie was ná Rassie Erasmus se bedanking as direkteur van afrigting in ’n uiters kwesbare posisie, omdat die ganse Stormers-bestuurspan se kontrakte einde Oktober sou verstryk.
Coetzee was dus in ’n baie sterk posisie om te onderhandel, veral omdat daar belangstelling in sy dienste by die Bokke was.
Intussen het Nienaber gesê dat hy slegs op Saterdag se wedstryd teen die Hurricanes fokus.