Marelize Potgieter enMARELIZE BARNARD
KAAPSTAD. – Die kinders van ’n voormalige boer van Touwsrivier wat in sy testament van minstens R110 miljoen onterf is, het hulle tot die reg gewend.
Te midde van bespiegelings oor hul pa se as wat verdwyn het en giftige kruiemengsels wat in sy besit was, betwis die kinders mnr. Matthys Kellerman Hoffman van die plaas Doornkop se testament.
’n Vroulike werknemer van hul pa is as die hoofbegunstigde in die testament benoem.
Die sewe kinders het daarin geslaag om ’n hofbevel van waarnemende regter Pearl Mantame te bekom sodat hulle toegang tot verskeie dokumente en rekenaarhardeskywe kan kry, met die doel om die saak verder te voer.
Die verweerders in die saak is me. Pamela Patricia Cairncross, die werknemer, mnr. Stefanus Gideon Malherbe, ’n prokureur en vertroueling van Hoffman, en mnr. Martin Johannes Hoffman, sy broer se kleinkind wat ook in Hoffman se diens was.
Die verweerders word almal in meer as een van Hoffman se testamente as begunstigdes van die boedel genoem.
Hoffman is op 8 Januarie 2011 oorlede. Hy het met kruie geboer, wat hy as medisyne verkoop het en waarmee dodelike siektes glo genees kon word.
Die kinders bevraagteken onder meer die egtheid van verskeie testamente wat Hoffman se boedel beskryf en waarin al die kinders onterf is.
Een van die dokumente wat die kinders wil sien, hou verband met eksperimente wat hul pa in die vier jaar voor sy dood gedoen het met ’n spesifieke kruid bekend as krimpbossie (kardiale glikosiede bufadienoliede•.
Van die ander dokumente sluit in sy notaboeke en ’n toestemmingsbrief dat sy liggaam veras mag word.
In ’n beëdigde verklaring van een van Hoffman se dogters, me. Maria Laynes, word na die giftigheid van die krimpbossie verwys.
Laynes voer aan dat daar voor sy dood ’n voorraad van dié gif in haar pa se besit was en dat hy glo vantevore gesê het dat hy mense met dié krimpsiektebossie en die selonsroos kan doodmaak “sonder dat ’n haan daarna sou kraai”.
Haar beëdigde verklaring vorm deel van dokumente waarop die kinders se hofaansoek gegrond is.
Volgens Laynes het sy en haar broers en susters misdaad vermoed met haar pa se dood.