Mari Beukes en Reuters
Johannesburg. – Die Europese Unie (EU) het die tou waarmee hy Griekeland uit die skuldput moet trek, so te sê om die land se nek vasgeknoop.
Daar is groot kommer oor die uitwerking wat die streng besuinigingsmaatreëls wat vir ’n tweede hulppakket vereis is, op die Griekse ekonomie sal hê.
Van die wêreldmarkte het hulle gister egter nie veel gesteur aan die nuus dat die Griekse regering, die EU en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) uiteindelik ’n ooreenkoms oor die tweede hulppakket bereik het nie. Ontleders meen markte het die ooreenkoms al sedert verlede week verdiskonteer.
Die JSE se indeks van alle aandele het die dag 0,11% sterker afgesluit op 34 142 punte, terwyl Europese beurse in die rooi geboer het.
Die euro het gisteroggend verstewig, maar sy lopie het teen laatmiddag begin verflou. Die rand het gisteroggend saam met die euro verstewig tot R7,64 teenoor die dollar en teen vroeg gisteraand op R7,67 gestaan.
Die EU se ministers van finansies het Maandagaand, ná 13 uur se onderhandelinge, die stappe gefinaliseer waarmee Griekeland die verhouding van sy staatskuld tot sy bruto binnelandse produk (BBP) teen 2020 tot 120,5% moet sny. Dit is net ’n fraksie vrygewiger as die 120% wat die EU en IMF aanvanklik vereis het.
’n Verslag wat verlede week aan die ministers voorgelê is, het egter getoon dat Griekeland sonder verdere besuiniging by 129% sou uitkom.
Griekeland moet dus staatspensioene en -salarisse verlaag en duisende staatsdienswerkers in die pad steek om die nodige besparingsvlak te bereik.
Duisende Grieke het die naweek weer buite die parlementsgebou teen dié maatreëls betoog.
Griekeland worstel reeds deur die vyfde jaar van ’n resessie en die ekonomie het sedert 2008 met 16% ingekrimp.
Die Griekse werkloosheidskoers staan op 20% en volgens berigte is die misdaadsyfer ook aan die toeneem.
Beperkte staatsbesteding sal dit ook vir die ekonomie moeilik maak om vanjaar te groei omdat duisende Grieke nou minder sal hê om te bestee.
Me. Christine Lagarde, besturende direkteur van die IMF, het egter gesê die bydraes van die private sektor en internasionale leners sal aan Griekeland die ruimte bied om sy skuld weer op volhoubare vlakke te kry.
Sy sê die hulppakket sal, saam met die versterking van die finansiële sektor, die weg baan vir ’n geleidelike herstel in Griekeland se ekonomiese groei.
“Die strategie neem die opofferinge deur die Griekse burgers in ag en sal die impak op die armste en mees kwesbare burgers probeer beperk,” het Lagarde in ’n verklaring gesê.