Tewis begin vir Cheetahs teen Lions ná draai in Frankryk

BLOEMFONTEIN. – Tewis de Bruyn se oorsese uitstappie was die moeite werd.

Dié skrumskakel sal Saterdag in die Cheetahs se eerste Super-rugbywedstryd van 2012 sy span se nr. 9-trui dra.

De Bruyn se ervaring, goeie lakwerk en skopvernuf het hom ’n plek bo die belowende Pieter van Zyl vir die kragmeting met die Lions­ in Johannesburg besorg. Hy het in die Cheetahs se voorseisoen vir die Super-reeks vir die Franse klubspan Lyon diens gedoen.

Tot agt spelers in die sentrale streekspan se 22-tal kan hul buiging in Super-rugby in die Goudstad maak. Die Cheetahs se linkervleuel, Rocco Jansen, losskakel, Johan Goosen, flank Lappies Labuschagné, slot Andries Ferreira en loskopstut, Trevor Nyakane, is almal nuwelinge in die beginspan, met die haker Hercu Liebenberg, Van Zyl en heelagter Willie le Roux wat plaasvervangers is.

Verder sal hul regtervleuel, Dusty Noble, wat bo Rayno Benjamin verkies is, ook die eerste keer vir die Cheetahs in dié reeks teen sy ou spanmaats speel.

Benewens De Bruyn se insluiting, is die Shimlas se Labuschagné se keuse in die lostrio waarskynlik die noemenswaardigste.

Die flank was nog eergisteraand in die Shimlas se nederlaag van 7-20 teen die Maties in Stellenbosch in aksie, maar het ’n skouerbesering opgedoen en nie in die tweede helfte gespeel nie.

Hy sou gistermiddag die Cheetahs se mediese span sien, maar sy kanse om te speel is blykbaar skraal.

Volgens Naka Drotské, die Cheetahs-afrigter, sal Philip van der Walt die nr. 7-trui dra indien Labuschagné nie fiks is nie.

Drotské meen De Bruyn het baie skerp gelyk sedert hy van Lyon­ teruggekeer het.

Die agterlyn-afrigter van die Cheetahs, Hawies Fourie, het gesê: “Tewis se verdediging was baie goed in die oefenwedstryd teen die Bulls. Ons skrumskakel is ook deesdae meer deel van ons verdedigingstelsel en lakwerk is een van sy sterkpunte.

“Tewis skop ook goed en daar is ’n kans dat dit die naweek kan reën­.”

Ferreira, wat bo Francois Uys gekies is, is vir sy goeie peil in die voorseisoen met ’n plek in die beginspan beloon.

Drotské sê ook hy wil graag nog ’n lynstaanspesialis in sy 22-tal hê en daarom is die slot Waltie Vermeulen op die plaasvervangersbank.

• Die Cheetahs-span is: Hennie Daniller, Dusty Noble, Robert Ebersohn, Andries Strauss, Rocco Jansen, Johan Goosen, Tewis de Bruyn, Davon Raubenheimer, Lappies Labuschagné/Philip van der Walt, Heinrich Brüssow, Izak van der Westhuizen, Andries Ferreira, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Trevor Nyakane. PLAASVERVANGERS: Hercu Liebenberg, Lourens Adriaanse, Waltie Vermeulen, Ashley Johnson, Pieter van Zyl, Sias Ebersohn, Willie le Roux.