Jacques neem Dewald hospitaal toe – min wetend wat wag
J.J. Harmse
PRETORIA. – Die laaste ding waaraan Jacques Potgieter Saterdagaand in Port Elizabeth gedink het toe hy Dewald Potgieter se bebloede arm sien, was dat dié besering aan hom sy eerste Super-beginwedstryd in die sak sou bring.
Potgieter was by dieselfde troue waar sy Bulls-spanmaat (en huismaat) in ’n fratsongeluk sy hand ernstig by ’n venster gesny het – ’n besering wat hom minstens twee maande van die veld gaan hou.
Jacques, wat ’n jaar ouer is as Dewald, kry dus nou op 25-jarige ouderdom kans om sy groot droom te verwesenlik.
Sy toetrede tot Super-rugby is teen die Sharks, ’n stywe bult, maar dit word effe vergemaklik deur die ervaring van sy mede-losvoorspelers. Deon Stegmann speel in sy 56ste wedstryd en Pierre Spies in sy 73ste.
“Ek het net daaraan gedink om Dewald te help,” het Jacques gister vertel. Ek en my meisie het hom hospitaal toe geneem. Die feit dat sy ongeluk my geluk kon wees, was die laaste ding waaraan ek gedink het,” vertel die gewese OP-Kings-speler, wat ook vroeër in sy loopbaan ’n draai by die Sharks Akademie gegooi het.
Nou wéét hy wat Vrydag wag as die Bulls hulle Super-veldtog teen die Natallers afskop en, erken hy, hy gaan nie terughou nie.
“Dit is hoekom ek in die eerste plek Bulls toe gekom het. Ek gaan my alles gee en my bes doen om die span goed te laat doen.”
Spies, wat die span van agtsteman sal aanvoer, het nog nie voorheen saam met Potgieter gespeel nie, maar glimlag breed oor dié kans.
“Ek, Deon en Dewald was al ’n gevestigde kombinasie, maar Jacques het verlede seisoen in die Curriebeker-reeks gewys watter waardevolle speler hy is.
“Hy is beslis een van die mees fisieke spelers wat daar is en dit pas die Bulls. Ek dink dit sal goed gaan met hom daar,” het Spies gesê.
Die agtsteman is die Bulls se mees ervare voorspeler en hy erken dat die nuwe kombinasies ’n nuwe tydvak vir die Bulls kan inlui.
“Ons is almal gefokus op die visie om ’n nuwe era by die Bulls te begin. Dit gaan nie maklik wees om die vorige groep se prestasies te ewenaar nie, maar hierdie groep spelers is nie bang vir harde werk nie.”
Frans Ludeke, hul afrigter, kon steeds 11 Springbokke kies, maar het drie nuwelinge (Juandré Kruger, Potgieter en Francois Venter) in Super-rugby in sy beginspan.
•Die Bulls-span is (met getal Super-wedstryde): Zane Kirchner (54), Akona Ndungane (67), Johann Sadie (7)*, Francois Venter (0)*, Bjorn Basson (25), Morné Steyn (89), Francois Hougaard (29), Pierre Spies (72, k), Jacques Potgieter (0)*, Deon Stegmann (55), Juandré Kruger (0)*, Flip van der Merwe (34), Werner Kruger (58), Chiliboy Ralepelle (35), Dean Greyling (15). PLAASVERVANGERS: Willie Wepener (40)*, Frik Kirsten (2), Wilhelm Steenkamp (36), CJ Stander (0)*, Jano Vermaak (62)*, Louis Fouché (0)*, JJ Engelbrecht (0)*.
(*) Dui eerste Bulls-wedstryd in Super-rugby aan.