Gekoop met haar eerste salaristjek

“My spesiale herinnering van Kook en geniet strek terug na my eerste salaristjek,” vertel Errieda du Toit, RSG-huiskok en kosskrywer van Kaapstad.

“Terwyl my kollegas ge-splash het op Blondie se jongste album en hul hare laat perm het – dit was die jare van gróót hare – het ek my eie kopie van Kook en geniet gekoop. Dit was die tiende uitgawe, agtste druk. Ek het R6,50 daarvoor betaal.

“Dit het my ’n gevoel van onafhanklikheid gegee; ek hoef nie meer my ma te gebel het om te hoor hoe om bobotie te maak nie – bl. 195 van my boek is vol borrie- spatsels wat wys hoeveel keer ek dié kos-ikoon gemaak het. Vandag maak ek my eie variasie, maar dis Kook en geniet wat my die vlerke gegee het.

“Uit eerbied het ek die dag wat ek gehoor het van die 1 111 111ste kopie wat verkoop is, op bl. 111 gaan loer na die resepte op daai blad.

“Ek het die resep vir gebakte vis tot die letter gevolg en weer besef: Kook en geniet beteken eintlik ‘Kook sonder verdriet’.”