Generaal en prostituut: Man praat
Jana van der Merwe
“SY is ’n stoute meisie. Ek het al vir haar gesê sy moet ophou met haar goed.”
Só gesels die vervreemde man van die prostituut wat die naweek na bewering deur die bevelvoerder van die Tempe-weermagbasis by Bloemfontein, brig.genl. David Mongezi Cebeni, met ’n pistool gedreig en aangerand is.
Haar vervreemde man, ’n Nigeriese winkelier in Maitlandstraat in die middestad, sê hy het sy vervreemde 22-jarige vrou al meer as een keer weens dwelmverslawing na rehabilitasiesentrums gebring.
Hy sê sy sal nie sommer maklik klagte by die polisie indien nie, maar hy weet van die klagte wat sy teen die generaal ingedien het. “Ek het ’n SMS-boodskap gekry, maar het haar Saterdag laas gesien.”
Cebeni (47), wat Maandag op aanklagte van aanranding en die rig van ’n vuurwapen in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn het, was gister terug op sy pos as basisbevelvoerder.
Sy prokureur, mnr. Johnny Fixane, het gesê die bewerings het niks met sy werk in die weermag te doen nie.
Fixane het gesê die weermag sal die “administratiewe besluit” moet neem of Cebeni hangende die verhoor in sy pos gaan bly of nie.
Mnr. Siphiwe Dlamini, nasionale woordvoerder van die weermag, het nie gister geantwoord op vrae of Cebeni geskors en of enige stappe teen hom gedoen gaan word nie.
’n Soldaat wat naby Cebeni en sy gesin in die Tempe-basis in Bloemfontein bly, sê hy het gesien hoe Cebeni Sondagoggend alleen by sy huis wegry.
Later het polisiebeamptes van die Parkweg-polisiekantoor saam met die prostituut voor dooiemansdeur by die generaal se huis opgedaag.
Hy sê die vrou het merke aan haar gesig gehad en haar gesig was geswel. “Net toe die polisie daar wegry, het Cebeni met sy vrou in die kar van voor aangekom.”
Cebeni is kort daarna in hegtenis geneem en was sowat twee uur later terug by die huis, sê die soldaat. Cebeni moet weer op 6 April in die hof verskyn.