Kom met ’n plan, maan Tina boere

Grondverdeling: AgriSA gewaarsku

STELLENBOSCH. – Boere moet ’n plan maak om die regering met ’n alternatief vir die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper te help.

Me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het dié versoek gister in die vorm van ’n waarskuwing aan AgriSA se beleidskongres gerig. Sy het na die ANC se beleidskongres van 26 tot 29 Junie in Midrand verwys.

“Die beleidskongres is op pad. Die debat oor grondhervorming gaan baie warm wees. Ek onderneem om my nie ten gunste van die nasionalisering van grond uit te spreek nie, maar ons moet aanvaar dat die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper nie werk nie. Ek het dit al tevore gevra en ek vra dit weer: Wat is die georganiseerde landbou se alternatief vir gewillige koper, verkoper? Julle het nie Alzheimer se siekte nie, julle sal onthou . . .

“En moenie administratiewe chaos vir stadige grondhervorming blameer nie. Ek waarsku julle: Julle moet met ’n alternatief vorendag kom.”

Mnr. Louw Steytler, president van Vrystaat Landbou, het gesê alle regsadvies wys haar stellings bots met art. 25 van die Grondwet, wat eiendomsreg waarborg.

By navraag het mnr. Johannes Möller, president van AgriSA, dit verwelkom dat die minister nie vir nasionalisering gaan vra nie, maar in ’n groot mate is eiendomsreg reeds ingekort deurdat waterregte en mineraleregte nou aan die regering behoort en boere nie meer betreders toegang tot plase kan ontsê nie.

Ander landbouleiers het geïrriteerd uitgewys dat dit nie hul taak is om planne vir die regering uit te dink nie.

Joemat-Pettersson het erken dat sy nie genoeg by boere uitkom nie, maar het die media, die DA se parlementêre vrae en die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, se ondersoek na haar besteding van belastingbetalersgeld daarvoor geblameer.

Terselfdertyd het sy afgevaardigdes gekasty omdat landbou steeds so rasgesegregeerd is en gevra hoekom so min wit boere by die Masibambisane- landelike ontwikkelingsprojek en die Geen Honger-veldtog betrokke is.

Oor vloedhulp in die Noord-Kaap het sy gesê die geld is beskikbaar en die Noord-Kaapse provinsiale departementshoof het die proses reeds begin Desember afgeteken, maar hy kon tot nog toe nie ’n afspraak met die direkteur-generaal kry om die geld aan die boere te laat oorbetaal nie.

Mnr. Harry Prinsloo, nasionale voorsitter van die wolkwekersvereniging, het haar reguit oor haar onkunde getakel toe sy slenkdalkoors aan probleme met woluitvoer gekoppel het.

Möller het gesê die minister kan haar departement se probleme oplos as sy die tegniese kundigheid in die land gebruik, maar sy doen dit nie.