Minister se ontboesemings verstom landboukongres

STELLENBOSCH. – Me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het gister van modewenke tot ontboesemings oor haar persoonlike lewe aan verstomde landbouleiers op AgriSA se beleidskongres voorgehou.

Sy het in Afrikaans begin deur haar verhouding met AgriSA met ’n huwelik te vergelyk, waarin moeilike tye voorkom, maar waarin ’n mens vasbyt en nie wrokke koester nie.

“Die afgelope drie of vier maande was so uitputtend. Almal wil net weet waar ek slaap, en met wie,” het sy vertel met klaarblyklike verwysing na DA-navrae oor haar rojale verblyfrekening.

“Die media is so negatief. Daar is nie hotelkamers teen R15 000 in Suid-Afrika nie, maar oorsee is daar sulke hotelkamers.

“Natuurlik het ek my kinders en hul oppasser saamgeneem oorsee. Ek is ’n enkelouer. Moet ek kinders van 9 en 11 jaar oud alleen tuis los tydens die vakansie?”

Joemat-Pettersson het gesê sy is enkellopend en enige man wat haar nou wil vergesel, moet vir homself betaal.

Sy het die skommeling in die DA se skadukabinet verwelkom, veral mnr. Athol Trollip se ontplooiing as landbouwoordvoerder in die plek van mnr. Lourie Bosman. “Mnr. Trollip is baie intelligent. Ek sê nie sy voorganger was onintelligent nie, maar Trollip is intelligenter,” het sy gesê aan ’n verraste gehoor wat geweet het Trollip is glad nie die DA-woordvoerder oor landbou nie – me. Annette Steyn is.

Toe het sy haarfyn uitgewei oor haar daaglikse eetgewoontes.

Ná die ontboesemings het sy ’n ruk oor landbou gepraat, onder meer oor hoe sy “soos ’n viswyf” baklei vir geld vir die landbou, maar later afgedwaal en oor modes uitgewei. “Ek ken modes,” het sy vertel na aanleiding van die ineenstorting van die mark vir volstruisvleis, maar die stygende vraag na volstruisprodukte.

“Ek het eerste volstruisvere gedra, toe noem mense my ’n mamparra. Onthou julle dit? Vandag gebruik Dior volstruisvere.

“Ek word altyd uitgekryt oor ek Jimmy Choo-steweltjies dra. Ja, ek dra dit. En ek werk op plase; ek breek selfs soms ’n nael.

“Maar het julle geweet ’n mens kry nou Armani-stewels vir plaaswerk?” het sy onder meer vir die boere gesê.

Verskeie het ná die tyd ruiterlik erken hulle weet nie hoe hulle dit met hul minister het nie.