Dries Liebenberg
DURBAN. – ’n Bykans twee jaar oue renosterkalfie, wat nog nie van haar ma gespeen was nie, dwaal nou alleen in die veld by ’n lodge in die noorde van KwaZulu-Natal rond nadat albei haar ouers Sondag deur stropers vir hul horings doodgeskiet is.
Volgens mnr. Louis le Roux, bestuurder van die Mpofini Game Lodge by Vryheid, het lede van ’n oënskynlik gesofistikeerde sindikaat Sondag daar toegeslaan en albei die private reservaat se volwasse witrenosters geskiet. Die 12 jaar oue diere se trofee-grootte horings is daarna uitgesny en -gekap.
Die lodge se veldwagters het eergister op hul daaglikse patrollie op die karkasse afgekom waar dit sowat 500 m van die grensdraad gelê het. Die kalfie is teen die aand ongedeerd in die omtrek van die karkasse gekry.
Die kalfie se ma en pa is albei met kopskote doodgeskiet, het Le Roux gesê. Die stropers het ook geweet hoe om deur die geëlektrifiseerde heining te kom sonder om geskok te word of die alarm te laat afgaan.
“Dis maar ’n eina-ding. Hulle (die volwasse renosters) was vir ons soos kinders. As jy nie hul lusern soggens betyds uitgesit het nie, het hulle omtrent ons huis se houttrappe kom stukkend trap,” het Le Roux gesê.
Volgens hom is die private wildreservaat van 1 200 ha net groot genoeg om twee renosters aan te hou. Die bul en koei, wat nou tussen R700 000 en R1 miljoen werd sou gewees het, is in 2004 gekoop.
Die verskalfie van 23 maande is die paar se tweede kalf. ’n Bulletjie is twee jaar gelede verkoop.
Renosterkalwers word gewoonlik tussen twee en ’n half en drie en ’n half jaar van hul ma gespeen.
“Die kalfie het al mooi begin gras eet, maar is nog nie gespeen nie,” het Le Roux gesê.
Dit gaan op die oomblik nog goed met die kalfie, maar hulle hou haar dop. As sy tekens van agteruitgang toon, sal hulle haar vang en in ’n boma sit, het Le Roux gesê. Hy reken die kalfie sal kan oorleef.
Die reservaat hou 27 wildspesies aan, maar het tot nou toe geen noemenswaardige probleme met wildstropery gehad nie.
Altesame 12 renosters is sedert die begin van die jaar in KwaZulu-Natal deur stropers doodgemaak vergeleke met verlede jaar se 34.