Mari Beukes
Johannesburg. – Die Reserwebank se leidende aanwyser het in Desember met 0,4% teruggesak. Dit is die eerste keer sedert Augustus verlede jaar dat die leidende aanwyser veld verloor het.
Dié aanwyser was in Desember net 0,2% hoër as ’n jaar tevore, terwyl dit in November op ’n jaargrondslag 2,3% hoër was.
Volgens die Reserwebank het ’n afname in die spasie wat koerante in Desember aan advertensies vir werkgeleenthede gewy het vergeleke met ’n jaar tevore die swaarste op die leidende aanwyser ingeweeg.
Die leidende aanwysers van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote het weer eens ’n negatiewe invloed op die aanwyser gehad.
Dié twee faktore het die leidende aanwyser laat terugsak ten spyte van ’n toename in die verkope van passasiersvoertuie op ’n jaargrondslag, asook die aantal goedgekeurde bouplanne vir woonhuise.
Mnr. Jeff Schultz, ’n ekonoom van Absa Capital, wys daarop dat die aanwyser steeds 25% bo sy mees onlangse laagtepunt, gedurende die resessie in 2009, is.
“Dit dui daarop dat die ekonomie steeds relatief goeie groeivooruitsigte vir die komende kwartale het.”
Schultz waarsku egter dat die vervaardigings- en mynbousektor steeds die wind van voor kan kry as gevolg van die probleme in die wêreldekonomie.
Mynbou en vervaardiging het in Desember albei ’n negatiewe bydrae tot die leidende aanwyser gelewer.
Schultz sê Absa Capital verwag steeds dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met 2,8% sal groei.
Die Reserwebank se samevallende aanwyser het in Desember met 1,1% verbeter.
Die sloerende aanwyser was onveranderd.