UV en Tukkies onoorwonne in o.20-groep

BLOEMFONTEIN. – Twee rugbyspanne in die Steinhoff-groep van die Varsitybeker-reeks se o.20-liga is steeds onoorwonne.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Tukkies was albei in hul eerste wedstryde baas. Die UV het die Ikeys met 27-20 verslaan en die Tukkies het die TUT met 130-0 vermorsel.

Die Ikeys is ná twee wedstryde met 6 ligapunte bo-aan dié groep se puntelys. Die UV en Tukkies het albei 5 punte ná slegs een kragmeting, terwyl die TUT ná twee wedstryde steeds segeloos is en geen punte kon insamel nie.

In die FNB-groep is Pukke met 6 punte ná twee stryde voor.

Die UJ en Maties het hul eerste wedstryde gewen en het 5 ligapunte elk. Die NMMU is nog segeloos en onderaan dié groep met geen punte. – Jóhann Thormählen

PORT ELIZABETH. – Die rugbyspan van die Oostelike Provinsie-Kings sal in sy aanslag op die Vodacombeker-reeks sonder Luke Watson wees.

Watson moet ’n minder ernstige skoueroperasie ondergaan en sal volgens die Kings-breier, Alan Solomons, vir ongeveer drie maande buite aksie wees.

Solomons het ook slegte nuus oor die senters Wayne Stevens en Jaco Bekker gehad.

Bekker is weens ’n kniebesering vir die seisoen uit.

Die voormalige Shimlas-kaptein Stevens het beserings aan sy kakebeen en oogbank opgedoen wat hom vir tot agt weke van die veld kan hou. – Michael Green

SYDNEY. – Die Australise krieketlegende Ricky Ponting sal steeds probeer om in sy land se toetsspan te bly.

Die krieketkeurders het hom ingelig hy is nie meer deel van die planne vir eendagwedstryde nie. Ponting was kaptein toe Australië die Wêreldbeker gewen het.

“Ek sal aanhou toetskrieket speel. Ek sal ook vir Tasmanië speel. Ek het vir almal gewys ek kan steeds in toetse oorheers soos ek in die onlangse reeks teen Indië gedoen het,” het hy gesê. – Sapa-AFP

BLOEMFONTEIN. – Ian O’Neill was met 137* aan die spits van die SUT se groot klubsege met 177 lopies oor die Peshawars.

• Verkorte Superliga-kriekettelkaarte: SUT 304/6(I. O’Neill 137* (126b), J. Kotze 52; James 2/49, Rafferty 2/49); Peshawars 127 (M. Finlay 49; Nel 3/22, Van Schalkwyk 2/14, Calder 2/21). SUT wen met 177 lopies.

Oud-Greys 228/8 (P. Botha 84, L. Mosena 63; Venter 2/25); Kovsies 232/5 (G. Cloete 76, A. Gous 59*; Bakkes 3/23). Kovsies wen met 5 paaltjies.

Rocklands 138 (M. Matseo 45; Lailand 3/39); Bobbies 140/1 (J. van Wyk 73*, J. Tait 47). Bobbies wen met 9 paaltjies..

CBCOB 171 (V. Oosthuizen 51, N. Venter 36; Jacobs 4/37, Diakos 2/7); Bobbies II 152 (S. Brown 54, T. Gildenhuys 44; Sesele 4/28). CBCOB wen met 19 lopies.

Oud-Andreans 190/8 (S. Khomari 79, J. Liebenberg 30*; Rosier 2/23); SUT II 194/7 (M. Jardine 62*, Z. Gilliver 37; Second 2/3). SUT II wen met 3 paaltjies. – Hannes Nienaber

PORT ELIZABETH. – Die veelbesproke Earl Rose sal maar weer sy vlerke moet sprei en ’n ander rugbyspan soek om voor te speel.

Rose en die skrumskakel Dustin Jinka, wat op proefbasis by die Southern Kings was, is nie deur die Kings kontrakte aangebied nie.

Die belowende vertonings van die jong Shane Gates op losskakel het Rose se doppie geklink.

Rose het nog verlede jaar Curriebeker-rugby vir Griekwas gespeel waarna die Poubloues se breier, Pote Human, nie sy kontrak hernieu het nie.

Jinka is uit Pretoria laat kom, omdat Falie Oelschig vroeër beseer was.

Maar met Oelschig weer reg, is daar nie meer plek vir dié voormalige Blou Bul as skrumskakel nie. – Michael Green

LONDEN. – Nog ’n skandaal staar Britse boks in die gesig nadat die Engelse bokser Carl Froch erken het dat hy ’n uitklophou uitgestel het sodat sy familie en vriende geld uit ’n weddenskap kon maak.

Die BBC berig dat Froch gesê het hy kon Ruben Groenewald van Suid-Afrika in 2005 vroeër as die vyfde ronde uitgeslaan het.

Hy het egter glo vir die vyfde ronde gewag omdat sy familie en vriende baie geld daarop verwed het dat hy dan sou wen.

Dié storie het eers nou uitgekom toe Froch oor die radio oor sy outobiografie gesels het.

Daar is nou sprake dat die Britse Boksbeheerraad (BBR) die voorval gaan ondersoek.

Die BBR ondersoek reeds Dereck Chisora en David Haye se gedrag in Duitsland. Dié twee het baklei by die mediakonferensie ná Chisora se geveg teen Vitali Klitschko. – supersport.co.za

BLOEMFONTEIN. – Die snelbouler Quinton Friend, wie se 40 paaltjies die naasmeeste in die afgelope SuperSport-krieketreeks was, is gekies vir die Vrystaat-span wat die Grens die week in Oos-Londen pak.

Die driedagwedstryd begin môre en die eendagwedstryd word Sondag beslis.

Die Vrystaat is die vroeë voorloper in die nasionale eendag­reeks. Rudi Second voer die Vrystaters aan.

• Die Vrystaat-span is: Lefa Mosena, Simon Khomari, Rudi Second (k), Pat Botha, Juan­re van Wyk, Letlotlo Sesele, Bokang Mosena, Desmond de Koker, Quinton Friend, Corné Dry, Gino Vries, Kagisho Pedi. Pite van Biljon en Duanne OIivier speel net in die eendagwedstryd. – Johann de Jager

Zürich. – ’n Raad van kenners van die internasionale sokkerbeheerliggaam, Fifa, het voorgestel dat skeidsregters effens suiniger met rooikaarte moet wees.

Die Fifa Taakspan 2014, onder leiding van Franz Beckenbauer, meen die driedubbele strafstelsel van ’n strafskop, rooikaart en skorsing is te drasties.

Daar is nog gevalle waar ’n rooikaart vir byvoorbeeld vuil spel gegee kan word, maar hulle meen ’n strafskop sal deug wanneer ’n speler ’n teenstander grond toe bring in ’n poging om besit te wen, maar waar hy net-net te laat was. – Sapa-AP