Malani Venter
STELLENBOSCH. – Die vyfjarige Dirkie Lochner van Wellington het sy ouers in ’n toestand gehad toe hy voor hul vertrek na Tietiesbaai vir die Desember-vakansie “verdwyn” het.
Die Burger het gister berig hoe ’n fietsryer, mnr. Evan Smit, op 16 Desember verlede jaar gesien het hoe dié seuntjie windverwaaid op die A-raam van ’n bewegende sleepwa se disselboom agter ’n dubbelkajuitvoertuig vasgeklou het.
Smit het by ’n rooi verkeerslig in Kerkstraat, Wellington, daarin geslaag om die bestuurder van die voertuig, wat hy aangeneem het Dirkie se pa is, oor die situasie in te lig.
Smit het nooit die besonderhede van die bakkie se insittendes geneem nie en weggery.
Nadat Dirkie se ma, me. Marinda Lochner, gereageer het op die berig wat ook op Die Burger se webblad verskyn het, kon agter die kap van die byl gekom word.
“Dit was nie ons in die bakkie nie,” het mnr. Francois Lochner, Dirkie se pa, gister vertel.
“Ons was eintlik op pad Tietiesbaai toe vir vakansie. Net voor ons wou ry, het ons agtergekom Dirkie is weg en het ons na hom begin soek.
“Ek het sy oom-hulle, wat solank vooruit gery het, gebel en gevra of Dirkie by hulle in die kar is. Hy het gesê nee. My vrou was in ’n toestand, want ons kon hom nie kry nie.
“ ’n Rukkie later is ons ingelig dat ’n motoris en ’n fietsryer sy oom-hulle gestop het en dat Dirkie gekry is. Hulle was sowat 2 km van die huis af,” het Lochner vertel.
“Sy oom-hulle was vreeslik geskok. Dit kan met enigiemand gebeur. Dirkie was net so geskok.”