‘Help regering met alternatief’
Jan-Jan Joubert
STELLENBOSCH. – Boere moet ’n plan maak om die regering met ’n alternatief vir die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper te help.
Me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het dié versoek gister in die vorm van ’n waarskuwing aan Agri SA se beleidskongres gerig.
Sy het na die ANC se beleidskongres van 26 tot 29 Junie in Midrand verwys.
“Die beleidskongres is op pad. Die debat oor grondhervorming gaan baie vurig wees. Ek onderneem om my nie ten gunste van die nasionalisering van grond uit te spreek nie, maar ons moet aanvaar dat die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper nie werk nie.
“Ek het dit al tevore gevra, en ek vra dit weer: Wat is die georganiseerde landbou se alternatief vir gewillige koper en verkoper? Julle het nie Alzheimersiekte nie, julle sal onthou . . .
“En moenie administratiewe chaos vir stadige grondhervorming blameer nie. Ons gee die punt toe, maar die beginsel is ook verkeerd. Ek waarsku julle: Julle moet met ’n alternatief vorendag kom.”
Mnr. Louw Steytler, president van Vrystaat Landbou, het gesê alle regsadvies wys haar stellings bots met art. 25 van die Grondwet, wat eiendomsreg waarborg.
Mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, het by navraag gesê hy verwelkom dit dat die minister nie vir nasionalisering gaan vra nie, maar in ’n groot mate is eiendomsreg reeds ingekort deurdat waterregte en minerale regte nou aan die regering behoort en boere nie meer betreders toegang tot plase kan ontsê nie.
Ander landbouleiers het geïrriteerd uitgewys dat dit nie hul taak is om planne vir die regering uit te dink nie. Hulle is sakelui met ondernemings, en staan gewillige koper en verkoper voor.
Dit blyk by navraag daar is wel ’n dokument met voorstelle, maar die nodige mandaat moet nog by provinsiale landbou-unies verkry word.
Joemat-Pettersson het erken dat sy nie genoeg by boere uitkom nie, maar het die media, die DA se parlementêre vrae en die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, se ondersoek na haar besteding van belastingbetalersgeld daarvoor geblameer.
Sy het haar bereid verklaar om na kritiek te luister en dit nie teen die georganiseerde landbou te gebruik nie.
Terselfdertyd het sy afgevaardigdes gekasty omdat landbou steeds so rasverdeeld is en gevra hoekom so min wit boere by die Masibambisane- landelike ontwikkelingsinisiatief en die Zero Honger-veldtog betrokke is.
Oor vloedhulp in die Noord-Kaap het sy gesê die geld is beskikbaar en die Noord-Kaapse provinsiale departementshoof het die proses reeds begin Desember afgeteken, maar hy kon tot nog toe nie ’n afspraak met die direkteur-generaal kry om die geld aan die boere te laat oorbetaal nie.
Mnr. Harry Prinsloo, nasionale voorsitter van die Wolkwekersvereniging, het haar reguit oor haar onkunde getakel toe sy slenkdalkoors aan probleme met woluitvoere gekoppel het.
Möller het gesê die minister kan haar departement se probleme oplos as sy die tegniese kundigheid in die land gebruik, maar sy doen dit nie.VMinister gee modewenke – bl. 2