Riaan Marais
PORT ELIZABETH. – Dit is asof die nartjies en biltong voor hul neuse weggeraap is. Só voel Despatchers oor die o.18- Cravenweek-rugbytoernooi wat vir dié dorp belowe is, maar toe weggeneem is.
“Verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) was reeds hier en was baie tevrede met ons geriewe.
Maar verlede Donderdag moes ek hoor die toernooi sal nie meer hier gehou word nie,” het mnr. Marius Swanepoel, president van die Despatch-rugbyklub, gister gesê oor die toernooi wat in Julie plaasvind.
“Ek was baie opgewonde. Dit sou ongelooflik baie vir die dorp beteken het om ’n nasionale toernooi aan te bied.”
Hy het aan Die Burger gesê die toernooi gaan na die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth verskuif word.
Mnr. Anele Pamba, uitvoerende hoof van die OP-rugbyunie, het egter gesê dit is nog geen uitgemaakte saak nie.
Hy het gesê daar is ’n sterk moontlikheid dat Despatch se geriewe steeds ’n groot rol in die toernooi sal speel.
“Ons hoop om albei velde te gebruik. Daardie week bestaan uit baie rugby, so om twee velde te hê sal baie help.”
Hy sê van die wedstryde sal regstreeks uitgesaai word, en daarvoor is die groter stadion beter ingerig. Maar Despatch is steeds ideaal vir uitdunwedstryde en oefeninge.
“Dié besluit sal môreaand (vanaand) ’n prioriteit wees. Al die rolspelers moet presies weet wat van hulle verwag word.”
Die rolspelers sluit onder meer Saru en die Nelson Mandelabaai-metro in.
Mnr. Kupido Baron, munisipale woordvoerder, sê die metro is in die proses om ’n begroting uiteen te sit wat tot die toernooi sal bydra. “Ons wil as een van die voorste stede bekend staan wanneer dit kom by die aanbieding van groot sportgeleenthede,” het Baron gesê.
Saru se kommunikasiebestuurder, mnr. Rayaan Adriaanse, sê hulle is baie opgewonde om vanjaar Cravenweek in die Oos-Kaap te hê.
“Saru was reeds in kontak met die plaaslike reëlingskomitee.
“Dit is een van ons belangrikste jeugprogramme en ons glo dit sal ’n reuse-sukses wees.”