Johann de Jager
BLOEMFONTEIN. – Die Proteas se Pietie Coetzee sal oorgehaal wees om Indië, hul vernaamste teenstander in die vrouehokkie-toernooi ter kwalifisering vir die Olimpiese Spele, vandag in Delhi te pak.
Die voorste doelskieter van alle tye was gister verkouerig. Suid-Afrika het in haar afwesigheid sy eerste punte in die toernooi verbeur toe hy gelykop (met 1-1) teen Italië gespeel het.
Die SA spanbestuurder, Les Galloway, sê hulle het as voorsorg besluit om haar nie teen Italië in te span nie. “Sy sal reg wees om teen Indië te speel.”
Die Proteas het Coetzee met die strafhoeke kwaai gemis. Suid-Afrika het 12 strafhoeke bewerkstellig.
Kate Woods is vir die trekhoue van die rand van die doelsirkel af ingespan.
Sy was ’n keer of wat ongelukkig, byvoorbeeld toe sy die raamwerk getref het.
Alessia Padalino, die voorste doelskieter tot dusver in die toernooi, het Italië vroeg laat voorloop. Haar doel van die eerste van Italië se agt strafhoeke in die vierde minuut, was ook die enigste doel in die eerste helfte.
Lauren Penny het vroeg in die tweede helfte die gelykmaker uit gebroke spel behaal.
Italië se doelwagter, Roberta Lilliu, is welverdiend as die Speler van die Wedstryd aangewys.
Haar Suid-Afrikaanse eweknie, Mariette Rix, moes teen die einde van die wedstryd ook haar keer ken met drie agtereenvolgende strafhoeke wat Suid-Afrika oorleef het.
Suid-Afrika en Indië het albei 7 punte ná drie wedstryde. Italië (5) is ook nog onoorwonne.
Indië het die agteros Pole met 3-0 in gister se hoofwedstryd geklop.
Die Oekraïne het 4 punte ná sy sege van 5-2 gister oor Kanada, wat ’n enkele punt het.
Suid-Afrika pak die Kanadese Vrydag in sy laaste groepwedstryd. Die twee topspanne van die ses speel Saterdag in die eindstryd met ’n vliegkaartjie na Londen op die spel.
• SS 6 op DStv sal vandag, Vrydag en Saterdag se wedstryde uitsaai.