Warburton terug om Drake te lei

CARDIFF. – Sam Warburton het van sy bobeenbesering herstel en is terug as flank en kaptein vir Wallis.

Die Rooi Drake speel Saterdag in hul Sesnasies-rugbywedstryd teen Engeland op Twickenham.

Warburton het die besering in Wallis se kragmeting met Ierland opgedoen en kon nie voorverlede week teen Skotland speel nie.

Alun Wyn Jones het op sy beurt van ’n toonbesering herstel en vervang Ryan Jones as die een slot.

In nog ’n verandering sal Ken Owens die eerste keer ’n toets begin, omdat Huw Bennett ’n kuit beseer het.

“Owens het geduldig vir sy kans gewag en ons verwag hy sal sy kans hierdie naweek aangryp,” het Warren Gatland, die afrigter van Wallis, gesê. – Sapa-AFP

BARCELONA. – Die motorwedrenspan van Williams het die afgetrede Oostenrykse Formule Een-renjaer Alexander Wurz gehuur om sy jaers hierdie seisoen raad te gee.

Bruno Senna van Brasilië en Pastor Maldanado van Venezuela is die mees onervare jaers van al die spanne wat vanjaar in aksie gaan wees.

Die 38-jarige Wurz het aan 69 Formule Een-wedrenne deelgeneem voordat hy in uithouwedrenne sy staal getoon het.

Hy het die Le Mans-wedren in 2009 en 1996 gewen.

Die Williams-span het verlede jaar sy swakste jaar tot nog toe beleef. – Sapa-AFP

SYDNEY. – Die Australiese krieketlegende Ricky Ponting sal steeds probeer om sy land se toetsspan te haal.

Die keurders het die kolwer ingelig hy is nie meer deel van die planne vir eendagwedstryde nie. Ponting was kaptein toe Australië die Wêreldbeker gewen het.

“Ek sal aanhou toetskrieket speel. Ek sal ook vir Tasmanië speel. Ek het vir almal gewys ek kan steeds in toetse oorheers soos ek in die onlangse reeks teen Indië gedoen het,” het hy gesê. – Sapa-AFP

DOEBAI. – Nog twee tennisspelers het hulle gister aan die Doebai-toernooi onttrek.

Dominika Cibulkova van Slowakye kon weens ’n dyspierbesering nie haar wedstryd teen Iveta Benesova van Tsjeggië voltooi nie.

Benesova was met 3-1 in die eerste stel voor toe Cibulkova besluit het sy kon nie voortspeel nie.

Maria Kirilenko van Rusland het haar vroeër die dag weens ’n nekbesering onttrek.

Eergister het die Wimbledon- kampioen, Petra Kvitova, weens siekte die handdoek ingegooi.

Li Na van China en Vera Zvonareva het dieselfde dag weens beserings handdoek ingegooi. – Sapa-AP

LONDEN. – Die Walliese en Britse Leeus-voorryman Gethin Jenkins gaan nes verskeie van sy internasionale spanmaats volgende jaar in Frankryk rugby speel.

Jenkins (31) wou nie sê vir wie hy gaan speel nie.

Daar is wel gerugte dat hy soos Bakkies Botha, Jonny Wilkinson en Matt Giteau vir Toulon gaan uitdraf.

Een van die dinge wat Jenkins se besluit makliker gemaak het, was dat sy klub, Cardiff, hom nie wou betaal terwyl hy internasionale verpligtinge gehad het nie.

Ander Walliese sterre wat ook in Frankryk gaan speel, sluit in Mike­ Phillips, James Hook en Lee Byrne.

Aled Brew gaan vir Biarritz speel en Perpignan vry glo hard na die slot Luke Charteris. – Sapa-AFP

LONDEN. – Britse boks staar nog ’n skandaal in die gesig nadat die Engelse bokser Carl Froch erken het dat hy ’n uitklophou uitgestel het sodat sy familie en vriende geld uit ’n weddenskap kon maak.

Die BBC berig dat Froch gesê het hy kon Ruben Groenewald van Suid-Afrika in 2005 vroeër as die vyfde ronde uitgeslaan het.

Hy het egter glo vir die vyfde ronde gewag omdat sy familie en vriende baie geld daarop verwed het dat hy dan sou wen.

Dié storie het eers nou uitgekom toe Froch oor die radio oor sy outobiografie gesels het.

Daar is nou sprake dat die Britse Boksbeheerraad (BBR) die voorval gaan ondersoek.

Die BBR ondersoek reeds Dereck Chisora en David Haye se gedrag in Duitsland. Dié twee het baklei by die mediakonferensie ná Chisora se geveg teen Vitali Klitschko. – supersport.co.za

Doebai. – Engeland het sy eendagwedstryd teen Pakistan gister hier met vier paaltjies gewen en sodoende skoonskip in die reeks van vier kragmetings gemaak.

Kevin Pietersen was die wenspan se groot held met ’n tweede agtereenvolgende honderdtal.

Hy het 130 lopies van sy span se totaal van 241/6 aangeteken.

Pietersen is goed ondersteun deur nog ’n Suid-Afrikaner van geboorte, Craig Kieswetter (43).

Jade Dernbach het Pakistan in sy kolfbeurt met sy naatboulwerk probleme verskaf en het 4/45 geneem.

Pakistan het 237 aangeteken met Asad Shafiq (65) wat op sy stukke was. – Sapa-AP

Zürich. – ’n Raad van kenners van die internasionale sokkerbeheerliggaam, Fifa, het voorgestel dat skeidsregters effens suiniger met rooikaarte moet wees.

Die Fifa Taakspan 2014, onder leiding van Franz Beckenbauer, meen die driedubbele strafstelsel van ’n strafskop, rooikaart en skorsing is te drasties.

Daar is nog gevalle waar ’n rooikaart vir byvoorbeeld vuil spel gegee kan word, maar hulle meen ’n strafskop sal deug wanneer ’n speler ’n teenstander grond toe bring in ’n poging om besit te wen, maar waar hy net-net te laat was. – Sapa-AP