Android is gewild, maar marknavorsers vind dié bedryfstelsel is besig om stoom te verloor teen Apple.
Google het gehelp dat Android die gewildste bedryfstelsel vir slimfone geword het, maar dié platform raak vinnig agter op een van selfone se belangrikste gebiede, naamlik nuwe applikasies (apps).
Hier wen Apple se iOS al hoe meer veld. In Januarie is minder apps vir Android ontwikkel as vir Apple – dit in vergelyking met ’n jaar gelede. So sê Flurry, ’n maatskappy wat data van sagteware vir selfone ontleed.
Ontwikkelaars het een Android-app vir elke drie Apple-apps gemaak. Hoewel die studie slegs ontwikkelaars volg wat Flurry gebruik, dui die bevindings daarop dat Google se poging om Apple se App Store aan te vat, besig is om stoom te verloor. Apple het 550 000 apps in sy winkel teenoor Google se 400 000 in die Android-mark. Albei maatskappye gebruik apps om hul fone aanlokliker te maak en kliënte wat reeds hul produkte het, te behou. “Ons het ’n groot migrasie na iOS gesien,” sê Peter Farago, vise-president belas met bemarking van Flurry.
Google het vinnig veld gewen teen Apple toe hul eerste Android-fone in 2008 op die mark verskyn het. In 2011 was die toename in nuwe Android-apps sowat die helfte van dié van Apple.
STEL NIE BELANG
Ander navorsers sien dieselfde neiging in Android se gewildheid. Appcelerator en IDC het in November ’n opname onder 2 000 ontwikkelaars gedoen en daarvolgens het minder belanggestel om apps vir Android-fone en tablette te ontwikkel as vyf maande tevore – dit terwyl hul belangstelling in iOS dieselfde gebly het.
Een van die redes vir die afname is tyd en geld. Apple-apps kan vinniger ontwikkel word. Dis ook makliker om ’n inkomste daaruit te verdien danksy Apple se iTunes-stelsel.
So verdien ’n speletjiesontwikkelaar soos GameHouse drie keer meer uit ’n iOS-titel as ’n Android-speletjie. “Dit vat ons ook twee maande langer om ’n Android-speletjie te ontwikkel as ’n iOS-titel,” sê Ken Murphy, vise-president van GameHouse. – Reuters
•Lees Ingeprop elders op die blad om uit te vind wat presies is Android en iOS.