Terwyl modelle die nuutste modes op die loopplank ten toon gestel het, het sommige gaste op laas week se New York-modeweek met hul tablet-rekenaars en slimfone gespeel.
Dis nou dié wat die Made Fashion Week-applikasie afgelaai het.
Dié app het die gebruiker in staat gestel om onmiddellik ’n foto van die model op die loopplank te kry, saam met inligting oor die ontwerper.
Hulle kon ook aantekeninge maak en ’n “plakboek” saamstel wat hulle op Twitter met ander kon deel.
“Dit het slegs drie sekondes geneem vandat die model op die loopplank verskyn het, totdat die gebruiker die inligting gekry het,” het Jonathan Glanz, uitvoerende hoof van Sonic Notify, wat die tegnologie ontwikkel het, verduidelik. Gebruikers van die app sal oor ’n paar maande in kennis gestel word wanneer ’n betrokke uitrusting in die winkel beskikbaar is. – Reuters