As jy een van daardie mense is wat dink jy kan Frozen Yogurt en BlackBerry in een tegno-tert saamvoeg, moet jy verder lees. Want vandag vat ons verlede week se rowwe verduidelikings vir agtergeblewenes verder en praat oor bedryfstelsels vir selfone en tabletrekenaars.
In die ou dae (voor 1996) het selfone en ander dra-in-jou-sak-masjiene nie sulke bedryfstelsels (Operating Systems of OS) gehad nie. Soos wat selfone slimfone geword het (kragtiger en veelsydiger), het bedryfstelsels wel nodig geword. Langs die pad het ’n paar van dié stelsels gewilder geword, ander het in onbruik verval en ander het kragte saamgesnoer.
Vandag oorheers min of meer vyf van dié bedryfstelsels die slimfoonmark: Android, Apple se iOS, BlackBerry OS, Symbian en Windows Phone. Omdat die duisende apps (kort vir “applications” of applikasies) wat deesdae beskikbaar is, gewoonlik bedryfstelsel-spesifiek is, beteken dit dat baie gebruikers huiwer om van handelsmerk te verander – want dit sou beteken hul ou apps gaan nie werk op hul nuwe foon met ’n ander bedryfstelsel nie.
VINNIG IETS OOR ELKEEN VAN DIE GROOT VIER:
■ Android behoort aan die soekenjin-maatskappy Google, maar word gebruik in verskeie vervaardigers se slimfone (en ook tabletrekenaars), insluitend Samsung, HTC, LG en Motorola. Dit beteken jy kan byvoorbeeld verander van Samsung na Motorola sonder om te vrees dat jou ou apps nie meer gebruik kan word nie.
Opeenvolgende weergawes van Android het oulike naampies wat vermoedelik ook die emosionele ouderdom van die ontwikkelaars daarvan weggee: Cupcake (weergawe 1.5), Frozen Yogurt (2.2), Honeycomb (3.3) en die huidige een, Ice Cream Sandwich (4.0). Volgens Wikipedia het 52.5% van die wêreld se slimfone teen November verlede jaar op Android geloop.
■ BlackBerry OS behoort aan die Kanadese maatskappy Research in Motion (RIM), vervaardigers van die BlackBerry. Dit word net op RIM se fone en tabletrekenaars gebruik. BlackBerry was ’n baanbreker in die slimfoonmark, veral danksy sy vermoë om sakemense toegang tot hul e-pos te gee. Deesdae is BlackBerry Messenger (’n kitsboodskapdiens wat gratis is tussen BlackBerrys) en sy goedkoop databondels dié maatskappy se sterkpunte.
■ Apple se iOs word gebruik in al dié maatskappy se gewilde maar duur apparate soos die iPhone, die iPod en die iPad (en moontlik eendag vir baba’s ook die iPeed). iOS is uitstekend, maar apps moet spesifiek daarvoor geskryf wees en te veel van Apple se inhoud is jou tans net beskore as jy in Amerika woon of oortuigend kan voorgee om daar te woon.
■ Symbian is ook ’n gedeelde platform en word onder andere deur Nokia gebruik.
Danksy Nokia was Symbian eens die wêreld se gewildste platform, maar Apple en iOS het veral in die VSA baie van sy markaandeel afgevat.
■ Microsoft se Windows Phone het
die afgelope tyd veld verloor, maar die samewerking tussen dié maatskappy en Nokia kikker al twee se vooruitsigte op. Nokia se nuwe Lumia-reeks gebruik byvoorbeeld Windows Phone 7.